Kaapstad is gereed vir die moontlike aankoms van Ebola - Article about Cape Town preparing for Ebola

Tygerberg Hospitaal is die amptelike bestemming vir Wes-Kaapse Ebola-pasiënte. Privaat- en staatshospitale sal ook gereed staan om pasiënte te ontvang.

“Solank die hospitaal mense gemaklik hou en die regte beskermende oorpakke verskaf, sal hulle vir die siekes kan sorg,” sê dr. Jantjie Taljaard van die Sentrum vir Aansteeklike Siektes (SAS).

 Tygerberg en SAS is al lank besig met onderhandelinge om te verseker dat Suid-Afrika se gesondheidsdienste paraat is om die Ebola-krisis en die verspreiding daarvan te keer.



“Sodra ’n pasiënt positief gediagnoseer word vir Ebola en die kenmerkende simptome begin wys, is dit beter om nie weer die pasiënt te verplaas nie,” sê dr. Taljaard.

“Teoreties kan die Ebola-virus makliker beheer word as gewone griep, want oordrag gebeur net deur aanraking,” sê dr. Wolfgang Preiser van Afdeling vir Geneeskundige Virologie van Stellenbosch Universiteit.

Hierdie onlangse uitbreek van die virus is die grootste tot dusver. “Ons moet baie streng reëls en regulasies in plek stel om dit onderbeheer te hou sou dit in Suid-Afrika uitbreek,” voeg dr. Preiser by.

Die Departement van Gesondheid en SAS werk tans saam met die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) om te verseker dat moontlike Ebola-gevalle dadelik behandel word.

“Kaapstad is al ’n geruime tyd slaggereed. Met die BLO se hulp is ons nou reg om mense te stop voordat hulle die lughawe-terminaal of hawe-gebied verlaat,” sê dr. Taljaard.

Die waarskynlikheid dat Ebola op eie bodem kan beland, kan nie bepaal word nie en daarom moet alle vlugte en skepe wat vanuit Wes-Afrika hierheen kom, fyn dopgehou word.

“Ons het elke voorsorgmaatreël in plek gestel, maar totdat die sisteem getoets word, gaan ons nie weet of ons suksesvol was nie,” sê dr. Taljaard.

Hoewel die Kaapse Internasionale lughawe nie oor die nodige toerusting beskik om mense se koors mee te meet nie, meen dr. Taljaard daar is geen rede tot kommer: “Passasiers kan koorsig wees om baie redes, maar as ons hulle koors sommer op die lughawe kan meet, skep dit die idee dat alles onder beheer is.”

Sou daar ’n passasier op ’n vlug wees wat Ebola-simptome toon, is daar ’n duidelike prosedure om te volg.

’n Lugwaardin sal die vlugkaptein in kennis stel wat dan die naaste beheertoring sal kontak om die nodige reëlings op grondvlak te tref.

Sodra die vliegtuig land sal die siek passasiers geïsoleer word vir behandeling.

“Die betrokke vliegtuie en skepe wat Ebola-pasiënte vervoer het, sal dan ontsmet word en vir ʼn ruk lank nie gebruik word nie,” verduidelik Ewald Bonzet wat verantwoordelik is vir veiligheid by Kaapstad se hawe.

“Ons verwag nie dat al die ander passasiers ook in kwarantyn moet bly nie, so ons hoop maar dat hulle self hospitaal toe sal gaan sou hulle ʼn paar dae later begin simptome wys.”

Comments

Popular posts from this blog

Stellenbosch bouncer completing Masters in Engineering - Profile about a man leading a double life

Sleeping pills should be a last resort - Article about insomnia and the addiction to sleeping pills

The fight has begun - Article about the rise of the EFF